top of page

Witbul Legende

Updated: Mar 11

Witbulle 1990. Die witbul legende is gebore iewers op die pad tussen Queenstown en Oos Londen. Die eerste span van Montana het van nou af bekend gestaan as die Witbulle.

Inligting verkry van Willem de Villiers (Klub Voorstitter en oud Monties Witbul speler) Witbul Alumni Facebook groep
 



 

Witbul Legende


Gedurende die April vakansie van 1990, het die 1ste Rugbyspan ‘n toer onderneem na Oos-Londen. Daar was ‘n gevoel van afwagting en optimisme a.g.v ‘n groep talentvolle spelers en twee jong afrigters genaamd Pieter Fasen en Nick Mentz. Dit was gou duidelik dat ‘n nuwe era in Montie rugby aangebreek het!


Een van die Montie ouers het ‘n luukse bus vir die toer beskikbaar gestel, toegerus met lugversorging, TV’s en toilet geriewe. (Ons het soos Springbokke gevoel om in sulke luuksheid te reis en dit was voorwaar ‘n voorreg.) Die bestuurder van die bus was ‘n besonderse “swartman” genaamd David. ‘n Nederige man van min woorde met ‘n besonderse talent om ‘n groot bus met ongelooflike kalmte en gemak in enige situasie te bestuur.


Gesien in die politieke klimaat van die tyd, was Dawid baie gou geliefd en gesien as ‘n belangrike deel van die Montie toerspan. Ons was in die tyd waar die land polities baie verander het, maar as ‘n groep jong rugby spelers, was ons op daardie stadium nie regtig bewus van die ander dinge wat in die land aangegaan het nie.

Die eeste stop op die toer was Aliwal-Noord, waar ons by die plaaslike warm bron vakansie oord tuisgegaan het. Swart mense was op daardie stadium nie toegelaat om in die vakansie oord tuis te gaan nie en David het toe in die hotel op die dorp tuisgegaan.


Die Saterdag speel ons die eerste wedstryd teen Aliwal-Noord Gekombineerde Skool. Die hoërskool het bestaan uit 165 leerlinge waar net minder as die helfte seuns was. Montana was ‘n skool met 800 kinders waar omtrent 350 seuns was, Aliwal-Noord was dus ‘n “kleinskooltjie”. Die dorp het basies “toegemaak” en almal was by die dorp se veld om die plaaslike span te ondersteun!


Dit was ‘n donker dag in Montie rugby geskiedenis met die eerste span wat seker die swakste vertoning ooit gelewer het.  Die opponente van Aliwal-Noord het daarinteen puik rugby gespeel en wen die wedstryd oortuigend!.


Na die wedstryd is die afrigters soos ouder gewoonte onthaal deur die opponente.  Om verder sout in die wonde te vryf het hulle laat blyk dat hulle twee vleuls na die SA atletiek kampioenskappe is en dus nie eers kon speel nie. Tydens die gesprek maak hulle dit ook duidelik dat die span van Hangklip in Queenstown die eintlike span is om te klop in die Noord-Oos Kaap.


Die afrigters was uiter aard van die saak nie vol van die lag nie en redelik nukkerig met die vertoning van die span.  Later die middag is ons terug na dieselfde veld vir wat ons geglo het sou ‘n ligte oefening wees met ons stywe en seer lywe.  Daardie Saterdag middag kry die span toe die tipe fiksheid sessie wat niemand nog voorheen beleef het nie. Die afrigters het duidelik die streep in die sand getrek, en daar was meer as een speler wat na die episode nooit weer eerste span rugby gespeel het nie. David, ons bus bestuurder, het van ‘n afstand af die petalje dopgehou en was duidelik verstom oor die fisike aard van die oefeninge.


Die Sondag oggend was ons kerk toe met seer en baie stywe lywe en dit was nogal ‘n beproewing.  Elkeen het tyd gehad om lank en hard na te dink oor die vorige dag se vertoning.


Die wedstryd teen Hangklip op Queenstown was geskeduleer vir die Maandag 12:00.  Soos ouder gewoonte was die hele kontrei daar om die plaaslike span te ondersteun. Die skool het die paviljoen vol gesit en daar was tot ‘n rasie leier geklee in ‘n manelpak wat die skare op die punte van hulle stoele gehad het! Ons as Monties was goed geintimedeer, na die verloor teen die ongerekende Aliwal-Noord, was almal benoud om teen Hangklip te speel wat baie hoog geag was. Die wedstryd het maar gesukkel om aan die gang te kom en die wedstryd was baie gelykop. Montana het egter die tweede helfte in rat gekom en klop die sterk span van Hangklip oortuigend.


Na die wedstryd het ons die pad van Queenstown na Oos Londen aangepak. Die gees was goed in die bus die manne het lekker geeët en die lewe was mooi. ‘n Toerreëling was dat almal met “Tekkies” moes bus ry. Die afrigters se verduideliking hiervoor was dat ‘n groep seuns in ‘n bus baie energie het en een manier om hulle rustig te maak is om ‘n draffie in te werk van tyd tot tyd. Na die skitter vertoning vroeer die dag was al die spelers onstpanne en in ‘n goeie luim en draf die laaste ding in ons gedagtes.


Iewers op die pad na Oos Londen, stop die bus skielik en tot ons verbasing aan die voet van een van die grootste bulte in die Oos-Kaap. Die afrigeters se verduideliking was dat omdat ons so goed gespeel het ons een bult vir spangees moet doen. Om ‘n lang storie kort te maak, is ons toe heelparty kere teen die bult op en af met die gevolg dat van die ouens by die bus aangekom het sonder hul middagete.


David het die episode op sy stil manier van ‘n afstand af dopgehou in ogeloof oor wat voor hom gebeur. Toe ons op die ou end op die bus klim en rusig raak het hy op sy beskeie manier die opmerking gemaak dat ons nou nie meer seuntjies is nie maar “bulle”! Die opmerking het ‘n diep indruk op ons gemaak en met die tyd het die “bulle” verander in “witbulle” a.g.v. die kleur van die eerste span trui.


Sonder dat die spelers of afrigters dit agtergekom het is die “Witbul” legende gebore en het die trotse Montie tradiesie gestalte gekry.  Deur die jare is die legende uitgebou soos op die toer in 1996 na Kaapstad waar al die seuns hul hare wit gekleur het. Toe die kaptein gevra is wat die rede was vir die wit hare was sy antwoorde eenvoudig, “ons is mos Witbulle”. Na die toer het die manne weer hulle hare af gesny omdat dit nie by die skool toegelaat sou word nie.


Verskeie tradiesies het deur die jare onstaan en in 2015 sal die “Witbul” amptelik 25 jaar oud wees. Die witbul kreet wat slegs gedoen word nadat die span gewen het, bestaan ook reeds van die vroeë negentigs.  In 1998 is die unieke bulletjie ontwerp op die trui aangebring en vanaf 2000 dra die eerste span die unieke bottelgroen dasse met die bulletjie embleem daarop.  Deur die jare is die tradiesie ook gevestig dat die span in die voorseisoen met ‘n ander trui speel en eers in die tradisionele wit trui speel as die span gevestig is.



 



Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page